
id: weg 791 woorde 9 Januarie 2006
… EN AS EK Sê SPRING …
Deur Andries Groenewald
As pa gepraat het terwyl hy daardie kyk in sy oë gehad het, het jy geluister en dadelik en vinnig gedoen presies soos hy gesê het …
Ons splinternuwe 1958 Kombi was die heel eerste van sy soort wat op ons dorpie in die Vrystaat aangekom het. Ek onthou nou nog hoe gaande die mense daaroor was: "Dis dan soos ’n bus, kompleet met drie rye sitplekke nogals!"
Aan die inklimkant was daar twee sulke aardige deurtjies wat van die middel af na weerskante toe oopgemaak het. En die 'splitscreen' aan die voorkant had twee sulke plat windskermpies wat van binne-af op skaniere kon oopstoot buitekant toe om dan met 'wingnuts' oopgehou te word.
My pa het dié Kombi waarskynlik destyds gekoop omdat hy lief was daarvoor om vakansietye lang paaie na vreemde plekke aan te durf. Moontlik het die feit dat hy en ma vyf spruite verwek het, ook ’n rol gespeel in sy keuse.
Die Kombi is kort voor lank vir die langpad pasgemaak met houtkiste (vir pakplek) wat die sitplekke vervang het en ’n vollengte dakrak waarop van ’n tuisgeprakseerde tent tot ’n vleiskoeler met rieme vasgemaak is. By elke petrolstop moes die waterhouer bo-op die vleiskoeler ook volgemaak word sodat dit deur die klein gaatjies oor die uitgebrande treinkooks kon drup om die vleis koel en vars te hou!
Die swaar gelaaide Kombi met sy uiters beskeie 36 perdekrag kon daardie warm Desember deur die karoovlakte skaars uit derde rat kom soos hy moes stoei teen sommer ’n ligte windjie. Ons was van die Wes-Vrystaat op pad na Keurboomsriviermond, as ek reg onthou.
"Piet, die kar sukkel vandag, ek weet darem nie of ons dit gaan maak nie: Swartbergpas lê ook nog voor en hy is nie elke man se maat nie!" het ’n duidelik bekommerde pa agter die tweespeekstuurwiel aan ons ouboet in die passasiersitplek gesê. Ouboet was al redelik ver geleer op die tegniese skool in Bloemfontein, en hy was al een wat in daardie stadium raad geweet het met die Kombi se gebrek aan krag. "Ek dink ons moet maar op Beaufort-Wes nuwe 'plugs, punte en ’n kondensor’ kry en sommer wéér ’n slag na sy olie ook kyk," was Ouboet se raad.
Aan die voet van die Swartbergpas, anderkant Price Albert, was daar destyds ’n stilhouplekkie aan die regterkant van die pad en dit was net mooi op die warmste uur van die dag toe pa daar aftrek. Die Swartbergpas was nou hier vóór ons die harde werklikheid en nie meer net sommer praatjies nie! En dit was net daar waar pa en Ouboet besluit het die nuwe 'plugs, punte en kondensor’ moet nou ingesit word terwyl ma na alma se innerlike omsien ... dit is nou Oros-lemoenstroop met watersakwater òf koffie met suiker en Nespray-melkpoeier saam met tuisgebakte beskuit.
Die wegtrek het sonder voorval verloop en ons had goeie moed toe pa die Kombi in een stadium selfs in derde rat sit. Maar o weë, toe begin dit al hoe steiler word en kort voor lank het daardie 36 perdekrag-enjintjie sy tweede rat nodig en ergste steiltes lê nog voor! Die ander moeilikheid was natuurlik dat daardie ratkas se eerste rat nie (soos dié van latere modelle) gesinchroniseer was nie. Dit beteken eenvoudig dat jy nie eerste rat kan skakel terwyl die voertuig vorentoe beweeg nie!
Hoe laer die enjintoere in tweede rat daal, hoe meer het pa gesweet ondanks daardie oopgeskuifde windskerms! Daarby was die pad ook nie so breed dat daar maklik omgedraai sou kon word indien die Kombi dan nou vierwiel sou vassteek nie. Dit was onvermydelik: die een of ander tyd sou hy verplig wees om daardie eerste rat te skakel, kom wat wil.
En toe die Kombi homself só wil-wil doodtrek in tweede rat, trap pa flink die koppelaar en jaag die toere terselfdertyd op en dwing die ratkierie met ’n helse geknars in eerste in en net daar
kry die 36 perde sommer weer nuwe vastrapplek!
Dit was egter maar slegs tydelike verligting, want nóg meer en erger steiltes het voorgelê. Pa hou die Kombi in eerste rat en elke keer as die toere daal, kyk hy vinnig om … só al asof hy iets wil sê … net om daarna weer op die pad voor hom te konsentreer.
Toe pa sy kop wéér ’n slag ons kant toe draai, toe sien ons daardie kyk in sy oë en hy sê:
"Maak oop daardie deure en as ek sê 'spring' dan spring julle en julle stoot!"
En toe maak ons vinnig daardie twee deurtjies só van die middel af buitekant toe oop en ons wag op die bevel om te spring en te stoot, maar dit was nooit nodig vir ons om te spring nie ...
einde weg